In Januarie 1926 is die “P.E Secondary School” in die ou hospitaal se gebou op Richmondhewel geopen met ’n leerdergetal van 35 leerlinge, seuns en meisies. Die stigtershoof was mnr. Leo Deary. In Julie 1927 het die skool verskuif na die Grey Instituut-gebou op die Donkin. In Januarie 1928 het die naam Hoërskool Pearson ’n werklikheid geword – vernoem na die agbare raadslid, mnr. William Pearson – burgemeester van Port Elizabeth vir 16 jaar.
Afrikaans is as onderrigmedium in Suid-Afrikaanse skole erken tot en met standerd ses, maar in 1928 het 15 Port Elizabeth-leerlders verkies om hulle skoolloopbaan deur die medium van Afrikaans te deurloop. Pearson was die enigste skool in P.E. was in staat was om dit te kan doen. In 1938, tydens die skoolhoofskap van mnr. H. Bezemer (1938 – 1947), het die eerste Afrikaans-medium klas die Senior Sertifikaateksamen afgelê. Pearson het op die stadium 575 leerlinge gehad. Pearson was gedurende hierdie tyd die enigste parallel-medium hoërskool in die Oos-Kaap en Grens-gebied met klasse in beide landstale vir alle standerds.
Pearson het die grootste hoërskool in die provinsie geword. Omdat daar nie genoeg plek vir die leerlinge was nie, is ’n nuwe skool in Bayviewlaan (nou Laerskool Erica) gebou. Die skool het in 1941 die “groot trek” gehad.
Mnr. D.J. Rossouw was skoolhoof vanaf Januarie 1948 tot Mei 1952. Woensdag, 18 Oktober 1950 is die oorlogsplaat opgerig ter ere van die oud-skoliere wat hulle lewe in die tweede Wêreldoorlog verloor het. Sedertdien is Herinneringsdag deel van die Pearson-kalender.
1953 – 1957 staan bekend as die Bruwer-era. Tydens die tydperk is elke Pearson biblioteekboek na ’n boekbinder in Bath, Engeland gestuur om die raklewe van die duur boek te verleng.
Mnr. J.P. Wait (1958 – 1965), wat by mnr. J.J. Bruwer as skoolhoof oorgeneem het, het verseker dat daar ’n balans tussen die kulturele ontwikkeling en sportontwikkeling plaasgevind het. Musiek (koor en blyspele) het floreer.
Mnr. Muller du Plessis (1966 – 1980) het reeds die florerende skool tot verdere hoogtes gevoer. Pearson was die onbetwiste Atletiekreus! Die leerdertal het tot 800 gegroei. Aangesien daar geen plek vir uitbreiding in Bayviewlaan was nie, en ook as gevolg van twee viere in 1970’s, het die skool in Julie 1976 – sy Gouejubileejaar – na Somerstrand verhuis.
Mnr. P.R. Visser (1981 – 1985), die sewende skoolhoof van die skool, moes die kwessie van dalende leerdergetalle hanteer, as gevolg van ons geografiese posisie. Gevolglik is weggedoen met die 3 tradisionele huise – Brown-Clarendon, Elton-Wallis en Pearson-Donkin. In hulle plek het Dearyhuis en Du Plessishuis ontstaan.
Mnr. J.L.P. Heath (1986 – 1990) het ’n vername rol gespeel in die besluit om Pearson se deure vir alle rasse oop te stel. Die aanvoorwerk en voorbereiding om die Model-B-skool te word is deur hom gedoen. So was Pearson weer eens die baanbreker – om onderwys aan alle rasse te bied.
Dr J.R. Ilsley (1991 – 1992) was die hoof toe ons in Januarie ons deure vir alle rassegroepe oopgestel het. Gedurende hierdie tyd het die skool vinnig en maklik aangepas om ’n “unieke kosmos van die Suid-Afrikaanse gemeenskap-” multi-kulturele, parallel-medium skool vir seuns en dogters – te word.
Me. E.D. ffolliott (1992 – 2004) word die eerste vroue-skoolhoof van ’n ko-ed skool in die Kaapprovinsie. Hierdie verandering in die skoolleierskap het hand aan hand gegaan met die oorgang van ’n Model B na die nuwe Model C-skool. Ons het maklik aangepas by die mikrokosmos van die huidige samelewing – ’n multikulturele, parallel-medium, ko-ed fasiliteit. Onder me. ffolliott se leiding het die Reg Anderson-lokaal (’n oud-skoliere lokaal), die Rendezvous (die leerders-kafeteria), die Rekenaarsentrum, en die terrein-bestuurdershuis ’n werklikheid geword. Die Oud-Skoliere Vereniging het vanweë haar dryfkrag weer na vore getree as ’n sterk entiteit. Peason het ook weer gespog met drie huise – Dearyhuis, Du Plessishuis en ffolliotthuis.
Mnr. André van Staden (2004 – 2017) het in Maart 2004 as die 11de skoolhoof van Pearson oorgeneem nadat hy in 1995 by die skool as Onderhoof aangestel is. Onder sy leiding is alle sportfasiliteite opgradeer, die skoolwinkel gebou, het die Eve Alexander Musiekouditorium die lig gesien en is die sportklubhuis opgerig. Vanweë sy dryfkrag en toewyding, word Pearson met sy lang en trotse tradisie tot steeds hoër hoogtes gelei. Ons leerdertal is ook die hoogste ooit sedert ons trek na Somerstrand. – 1050 leerders! Nuwe klaskamers is binne die skoolgebou geskep. Ons Olimpiese-grootte Waterpolo-swembad het in 2008 die lig gesien en ses nuwe krieketnette is aangelê. ’n Kuns- en Ontwerpsentrum is opgerig, en die opgegradeerde pawiljoen sluit nou ’n Sport-wetenskapsentrum in. ’n Nuwe netbalbaan is voltooi en ons Astro (2012) – die grootste projek wat nog ooit deur die skool aangepak is, is in 2013 van sproeiligte voorsien. In 2014 het ons die nuwe Akademiese vleuel in gebruik geneem – drie klaskamers, twee Lewenswetenskaplaboratoriums, ’n Sportkantoor en vier ekstra stelle seuns- en dogterskleedkamers. In 2015 is nog ’n netbalbaan, 4 HOD-kantore en besproeiing op die 2 hoof-rugbyvelde aangebring. Die nuwe Akademiese Vleuel Twee – 3 klaskamers op Vlak 1 en ’n moderne Wetenskaplaboratorium en ’n IT-laboratorium op Vlak 2, asook nog 3 HOD-kantore en die Les Bubb-plein (buite die Rendezvous) – is in 2016 in gebruik geneem. In 2016 het Pearson twee nuwe huise by die huidige huiststelsel gevoeg: Deary, Duppie en ffolliott met die byvoeging van Heathhuis en Waithuis wat ons dus vyf huise in totaal gee. Verder is daar begin met die aanlê van die besproeiing-sisteem van die Astro-baan, en daar is ’n begin gemaak in die bou die nuwe Gimnasium en Gesondheidsentrum. Die swembadpaviljoen is ook in hierdie jaar voltooi.
Mev. Hela Roux (2017 – 2023) staan sedert 2017 aan die stuur van sake nadat sy sedert 2004 adjunkhoof was. Onder haar bekwame leiding is ’n toonaangewende gimnasium in 2018 gebou. Sy het ook ’n integrale rol gespeel om te verseker dat die Pearson-Boetiekkoshuis in Januarie 2019 voltooi is. Dit het tot ’n algehele opknapping van die bostaande skoolkombuis gelei en die Reg Andersonlokaal is in ’n eetsaal vir die koshuisleerders omskep. Die ou gimnasium is eweneens in ’n Astro en netbal pawiljoen gebou en ’n hoogsgesofistikeerde besproeiingstelsel aangelê is wat verseker dat die kampus te alle tye in ’n uitmuntende toestand gehou word. Onder haar leierskap is die nuwe musieksentrum in Julie 2022 voltooi. ‘n Tweede Astroturf is in 2023 gelê, asook die oprigting van terrassitplekke.
Mnr. Haldane Pienaar (2023-tans) is ons aangestelde 13de skoolhoof vanaf November 2023. Mnr. Pienaar het in 2015 as Engelsonderwyser by die Pearsonfamilie aangesluit en is in 2018 as adjunkhoof aangewys. Hy het ‘n belangrike rol in die voltooiing van ons tweede astroveld, wat amptelik op 15 November 2023 in gebruik geneem is. Met ons èeufeesvierings vir 2026 goed op dreef sal sy energie en passie vir die Pearsonhandelsnaam ‘n deurslaggewende rol in egte Pearsongees speel.
Pearson bly ’n besige en ’n gelukkige skool van uitmuntendheid. Hier strewe ons om die persoon in sy totaliteit op te voed – geestelik, akademies, kultureel en op sportgebied. Pearson was die eerste skool in Port Elizabeth om die JOT (Jesus our Teacher) bedieningsprogram aan te bied. By Pearson word leerders ’n wye verskeidenheid keuses en geleenthede gebied om in ekstra-kurrikulêre aktiwiteite betrokke te raak. ’n Wye verskeidenheid opvoedkundige programme is beskikbaar om leerders vir ’n uitdagende toekoms toe te rus. Vanweë ’n gesonde gedragskode word waardes by ons leerders ingeskerp. Pearson is ‘die skool van uitnemendheid’.